Verlede Vrydagaand het ek die geleentheid gehad om te gaan kuier by die AGS kerk in Melkhoutfontein se jeug. Hulle jeugleier, Jonathan, is besig om psalm 23 oor ‘n tydperk van ‘n paar Vrydae deur te werk en het hy my gevra of ek nie iets het om te deel met hulle oor hierdie lieflike deel van die skrif nie.
My pa het al ‘n hele klompie jaar terug vir my in ‘n ou hoogs-hollandse bybel gewys hoe die eienaar, wat heel moontlik in die groot depressie jare geleef het, psalm 23 “deur” gelees het. Die blaaie is baie duidelik meer aan gevat as die res rondom dit en is daar selfs vlekkies wat lyk soos druppels wat merke gelaat het op die bladsy wat nie op ander plekke voorkom nie. Wat hierdie druppels is, of dit nou net water of dalk trane is, maak nie saak nie, want dit verskyn alles by psalm 23. Dit het ‘n groot indruk op my gemaak wat gemaak het dat ek self ook redelik al tyd spandeer het op hierdie psalm en is was daar nog altyd baie rykdom daarin. Wel nie in die woorde van die psalm nie, maar hoe direk dit spreek tot ons lewe selfs nog vandag.
Ek skryf nou baie oor die psalm, maar wat ek egter wil deel is net in kort hoe ons Herder nogsteeds gereed staan om ons te laat neerle in groen weivelde en te neem na waters van rus is. Ons het sommer as die klein groepie van 17 mense rustig op ‘n mat gesit en net ons gedagtes weer oor die woorde van die psalm laat gaan en kortliks stil gestaan by die gedagte van gaan “neerle” by die weivelde en waters. Sonder om veel te doen het ek net met die ghitaar gesit en ons het die koor gedeelte van Light of the world gesing en net rustig geraak by Hom. Vandaar het Hy self met outjies begin gesels en werk en was dit so ‘n voorreg om te sien hoe getrou Jesus is om nie net te wees in woorde nie, maar ook deur Sy Gees lewend by ons.
Vanuit my persoonlike ervaring van die aand was dit vir my baie spesiaal om te weet dat die outjies nie gaan vaskyk in my op soek na hulle ervaring nie, maar hulle het ‘n geleentheid gehad waar hulle met God self kon ontmoet. Ek dink ek probeer maar net met hierdie paar woorde getuig van God se werklikheid en Sy begeerte om ons te ontmoet, Sy skepping.
Groete vanuit ‘n kouerige Laingsburg,
Louw